Die eerste skool is in 1868 gestig en het as die "St. Peter's Mission School" bekend gestaan. Dit was deel van die huidige "St. Peter's Church" Later het dit as die "Anglican Church School" bekend gestaan met mnr. W.H. Paterson as skoolhoof. Die eerste onderwyser was 'n mnr. Soph of Soff.
In 1884 het eerwaarde Van Zyl die N.G. Kerk-skool gestig. Die eerste onderwysers was onder andere Soph, Telétt, McKlene en Knoebel.
In 1887 het die "St. Peter's Mission School" en die N.G. Kerk-skool verenig en dit was die begin van die Publieke Skool. Mnr. S.G. du Toit was die eerste skoolhoof van dié skool. Die klasse is in die N.G. Kerksaal waargeneem. Die skool het ongeveer 30 leerlinge en drie onderwysers gehad waarvan meester Paterson en "Swallow" Neethling die bekendstes was.
Bouwerk aan die klipgebou onder Hoy se Koppie het in 1907 begin en die gebou is in 1911 betrek met mnr. S.G. du Toit as hoof, mej. Bredenkamp verantwoordelik vir sub A en B, mnr. Paterson vir standerds 1 tot 4 en mej. Neethling vir standerds 5 en 6. Nederlandse en Engelse leerders is in dieselfde klas onderrig.
In 1918 het die skool primêre skoolstatus gekry en 'n staatskool geword. Mnr. S.G. du Toit was hoof tot in 1920. In 1921 het die skool 'n sekondêre skool geword. Omdat mnr. Du Toit nie oor die nodige kwalifikasies beskik het nie, is mnr. J.J. Fick as hoof aangestel. In 1931 is mnr. Fick deur mnr. Lomberg opgevolg.
In 1941 het die skool hoërskoolstatus verkry. Terwyl mnr. Lomberg aan die Tweede Wêreldoorlog gaan deelneem het, het nnr. B.J. Joubert (Oom Joepie) vanaf 1940 tot 1945 as hoof waargeneem. Mnr. Lomberg keer nie na afloop van die oorlog terug nie, maar word hoof van Observatory Boys High School. Mnr. H.C. Jones neem in Januarie 1946 by mnr. Joubert die leisels oor. Die hoër- en laerskool skei in 1952 met mnr. N.J.P.S. van Staden as hoof van die laerskool. Beide skole is toe nog op dieselfde terrein gehuisves. In 1962 is mnr. Van Staden deur mnr. H. Honniball opgevolg. Hy is in 1968 deur mnr. B.A. Kuyler opgevolg en in 1978 word mnr. H.B.
Nell die skoolhoof.
'n Nuwe hoërskool is agter Hoy se Koppie gebou en in 1977 betrek. Na vele vertoë tot die WKOD en met die hulp van mnr. Lampie Fick, LP vir Caledon, is die ou hoërskoolgebou uiteindelik opgeknap en betrek die laerskool al die geboue op die terrein.
Op 1 Mei 1992 word die skool 'n staatsondersteunde skool en mnr. H.B. Nell tree af op 31 April 1995. Mnr Cilliers volg hom op as skoolhoof.
Sedert 1995 het die ouers van Laerskool Hermanus die volgende verbeterings vir eie rekening onderneem: Bou van die skoolsaal, bou van 10 klaskamers, 4 motorhuise, 'n snoepie, pawiljoen, klubhuis, kleedkamers, twee admin blokke, drie hokkievelde, astro en outomatiese besproeiing vir die sportvelde. Baie ander kleiner projekte is ook voltooi.
In 2014 het ons 'n multifunksionele kultuursentrum van 180 m 2 gebou. Ons visie is om die kunste en musiek met die fasiliteit verder te ontwikkel. 'n Personeelkamer vir ons grondpersoneel saam met twee nuwe motorhuise vir ons busse het die bouprojek voltooi. Een van ons motorhuise agter die junior blok is omskep in 'n nuwe klaskamer.
Meneer Cilliers het teen die einde van 2022, na 42 jaar in diens, waarvan hy 27 jaar lank die skoolhoof was, afgetree. Onder sy bekwame leiding het Laerskool Hermanus groot hoogtes bereik. Ons is dankbaar vir die uitstekende groei wat onder Mnr Cilliers se leiding plaasgevind het.
Ons is bevoorreg om deur Meneer du Preez gelei te word gedurende die 2023 skooljaar.
Tussen baai en die berg lê Hoy's Koppie verdwerg
staan brandwag oor dit wat ons eer;
Nooit sal ons vergeet waaraan ons moet meet
die toekoms van elk kind wat hier leer.
Ja, die sout van die see
gee smaak aan ons weë;
Ruwe kranse wys ons staan sterk.
Op ons skool is ons trots, gebou uit die rots
wat standvastigheid gee aan ons werk.
Hermanus ons skool — ons gee alles vir jou;
Ons sal jou naam met vaste tred hou.